Soos vertel deur Aletta Sophia van den Berg née Visagie

Die onderstaande is vertel deur Aletta Sophia Visagie - gebore op 24 Mei 1929 in Commodoro Rivadavia, Argentiniē. Op vierjarige ouderdom kom sy saam met haar ouers terug na Suid afrika.

Aletta Sophia van den Berg gebore Visagie.


My Ma Johanna Petronella Janse van Vuuren gebore op 24 Mei 1903, Phillipstown in die destydse Kaapprovinsie het as 3 jarige dogtertjie saam met haar ouers, Christiaan Jansen van Vuuren, van beroep 'n onderwyser in Colesberg en Anna Elizabeth Snyman van Phillipstown in 1905 as deel van Trek IV na Argentinië vertrek.

Hulle was deel van 'n groep boere wat destyds nie onder die Engelse Regering wou staan nie. Hy en sy vrou Bettie en dogter Johanna Petronella vertrek aan boord van die skip "Highland Fling". Die "Highland Fling" was gebruik om 'n vrag muile na Kaapstad te vervoer en is binne 'n paar dae in 'n emigrante skip omgeskep.

Alhoewel voldoende spasie beskikbaar was om die 322 mense te vervoer het die reuk van die muile agtergebly vir die duur van die reis na Argentinië.

My Ma Johanna Petronella Janse van Vuuren

Die "Highland Fling" het vanaf Kaapstad na Buenos Aires op 21 Oktober 1905 vertrek. Na 17 dae in die Spaanssprekende Stad het die imigrante aan boord van die "Presidente Roca" na Chubut vertrek. Alhoewel hulle derde klas gereis het was die omstandighede heelwat beter as aan boord van die "Highland Fling".

Op 5 December 1903 arriveer hulle in Comodoro Rivadavia meer as twee maande na hulle vertrek vanaf hulle huise in verskeie plekke in Suid Afrika. (B du Toit: Colonia Boer, bl 121-123) Christiaan is kort na hulle aankoms in Commodoro Rivadavia dood aan typhoid.

My ouma is ook binne twee jaar na hulle aankoms in Argentinië dood en my ma het by die weduwee van MM Venter gewoon wat haar toe grootgemaak het. Die weduwee se voorname is onbekend aan my maar my ma het haar "Ouma" genoem.

MM Venter was die leier van die 1905 trek na Argentinië en is ook vroeg oorlede, klaarblyklik in 1908.

My Pa, Andreas Gerhardus Christiaan Visagie is op ongeveer 20 jarige ouderdom (1922) saam met sy oom wat vanuit Argentinië by sy familie in Suid-Afrika kom kuier het terug na Argentinië.

Op pad na Argentinië koop hy in London dele van 'n ou vragmotor wat hy in Argentinië aanmekaar sit.  

In Argentinië werk hy aanvanklik in die oom se sake-onderneming, maar begin gou soek na 'n plek om sy eie motorhawe te begin.

Uit die huwelik tussen my ouers is 3 dogters in Argentinië gebore. In 1933 terwyl Suid-Afrika onder 'n ernstige droogte gebuk gegaan het kom ons terug in Suid-Afrika aan. 

Nadat ons 'n maand by my Pa se ouers op Dwaalhoek naby Potfontein gewoon het, het Pa 'n motorhawe op Petrusville begin.

Tye was moeilik want die boere wat aan hul motors laat werk het het met maer skape betaal. Geld was baie skaars.

Ons drie dogters het al drie op Petrusville skoolgegaan vanaf Sub A tot Std. 10. Toe ek 8 jaar oud was is my enigste broer Jan op 7 Mei 1938 gebore.

Terwyl ek op die onderwyskollege in Bloemfontein was het my ouers na Jacobsdal verhuis waar my Pa 'n motorhawe begin het.

Na afloop van my kursus begin ek op Jacobsdal skoolhou tot April 1952 toe ek en Sampie getroud is.

My Pa is op 60 jarige leeftyd oorlede toe 'n brand as gevolg van 'n paraffienverwarmer in ons huis uitgebreek het en hy blykbaar aan versmoring dood is.

My Ma het daarna ongeveer 2 jaar by ons in Pretoria gewoon en later op Luckhoff.

Haar laaste lewensjare het sy op Petrusburg in die ouetehuis deurgebring. Sy is in 1985 in Petrusburg oorlede en in Petrusville begrawe.


Nota deur haar seun : In 2003 het my ouers, Sampie en Aletta na Legato Aftreeoord in Durbanville verhuis. Op 10 Julie 2016 is sy in haar slaap oorlede in haar kamer by La Vie est Belle Aftreeoord in Durbanville, Sy is veras en haar as is saam met die van Sampie geplaas in die muur van herinnering by die NG Kerk in Kleinmond.

© Copyright van den Berg Family History 2018 | All Rights Reserved | Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs | Web Hosting by ZAWebHosts | My Ma Resources